11 En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.
12 EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
13 en toe Hy op ’n afstand ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
14 En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ’n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.
15 En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;
16 en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.
17 En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.