15 Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak,
16 en hulle ’n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie,
17 sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet:
18 Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ’n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig.
19 Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.
20 ’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ’n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.
21 En op sy Naam sal die heidene hoop.