32 En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.
33 JULLE moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.
34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.
35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.
36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
38 TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien.