33 ’n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.
34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;
35 sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.
36 NADAT Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.
37 En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens,
38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,
39 en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.