11 Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.
12 Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.
13 Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.
14 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang.
15 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.
16 Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.
17 Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?