1 EN laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.
2 En daar kom ’n groot aardbewing, want ’n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.
3 En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.
4 En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.
5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;
7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.