15 Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene —
16 die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan.
17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
18 En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.
19 En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.
20 En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg.
21 En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep.