5 En sy het ’n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.
6 En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.
7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.
9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
10 Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.
11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.