13 En ek het ’n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.
14 EN ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit wolk en een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit, met ’n goue kroon op sy hoof en in sy hand ’n skerp sekel.
15 En ’n ander engel het uit die tempel gekom en met ’n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het.
16 En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai.
17 En ’n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het ook ’n skerp sekel gehad;
18 en ’n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met ’n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword.
19 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.