1 EN ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.
2 En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,
3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.
4 En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
5 Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.