1 EN ná hierdie dinge het ek iets soos ’n groot stem van ’n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!
2 Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.
3 En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.
4 En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!
5 En ’n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!
6 En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.
7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.