3 Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.
4 Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.
5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.
6 Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
7 EN skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:
8 Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.
9 Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.