1 EN ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.
2 En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?
3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.
4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie.
5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.
6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.
7 Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit;