9 Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.
10 Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
11 Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
13 LAAT ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder ’n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.
14 Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.
15 Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie.