26 Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertienhonderd waens en twaalfduisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.
27 Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.
28 En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het dit uit Kwé gaan haal teen koopprys.
29 En ’n wa het uit Egipte opgekom, en dit is verkoop vir seshonderd sikkels silwer, en ’n perd vir honderd-en-vyftig; en so is dit vir al die konings van die Hetiete en vir die konings van Aram deur hulle uitgevoer.