17 maar Hadad het ontvlug, hy en saam met hom Edomitiese manne uit die dienaars van sy vader, om na Egipte te gaan; en Hadad was ’n jong seun.
18 En hulle het uit Mídian weggetrek en in Paran aangekom, en uit Paran manne met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by Farao, die koning van Egipte, wat hom ’n huis gegee en aan hom voedsel toegesê en hom grond gegee het.
19 En Hadad het groot guns gevind in die oë van Farao, sodat dié aan hom sy vrou se suster, die suster van Tágpenes, die gebiedster, as vrou gegee het.
20 En die suster van Tágpenes het vir hom sy seun Genúbat gebaar, maar Tágpenes het hom in die huis van Farao gespeen, sodat Genúbat in die huis van Farao was onder die kinders van Farao.
21 Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid met sy vaders ontslaap het en Joab, die leërowerste, dood was, sê Hadad vir Farao: Laat my gaan, dat ek na my land kan trek.
22 Daarop sê Farao vir hom: Maar wat ontbreek jou by my, dat jy meteens begeer om na jou land te trek? En hy antwoord: Niks nie, maar laat my tog maar gaan.
23 God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada, ’n vlugteling van sy heer Hadadéser, die koning van Soba.