32 maar die een stam sal syne wees ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek verkies het uit al die stamme van Israel —
33 omdat hulle My verlaat en hul neergebuig het voor Astárte, die godin van die Sidoniërs, voor Kamos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die kinders van Ammon, en nie gewandel het in my weë deur te doen wat reg is in my oë, naamlik my insettinge en my verordeninge, soos sy vader Dawid nie.
34 Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawid wat Ek verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het.
35 Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee, die tien stamme;
36 en aan sy seun sal Ek een stam gee, sodat my kneg Dawid altyd ’n lamp kan hê voor my aangesig in Jerusalem, die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig;
37 en Ek sal jou neem, en jy sal regeer oor alles wat jou siel begeer, en jy sal koning word oor Israel.
38 En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou ’n bestendige huis stig, soos Ek vir Dawid gestig het, en Israel aan jou gee.