10 En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u hierdie volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons — só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene.
11 Het my vader dan nou ’n swaar juk op julle gelaai — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.
12 Toe Jeróbeam en die hele volk dan by Rehábeam kom op die derde dag soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag —
13 het die koning die volk ’n harde antwoord gegee: hy het die raad wat hom deur die oudstes gegee is, in die wind geslaan
14 en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.
15 So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ’n beskikking van die Here, sodat Hy sy woord sou vervul wat die Here gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.
16 Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan.