22 Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê:
23 Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê:
24 So spreek die Here: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die Here en weer teruggetrek volgens die woord van die Here.
25 En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou.
26 EN Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid terugkeer:
27 as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die Here in Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na Rehábeam, die koning van Juda.
28 Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het!