22 maar omgedraai en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy aan jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie — daarom sal jou lyk nie in die graf van jou vaders kom nie.
23 Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op — vir die profeet wat hy laat omdraai het —
24 en hy gaan weg; toe kom ’n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan.
25 Intussen kom daar manne verby wat die lyk op die pad sien lê, terwyl die leeu langs die lyk staan; en hulle het dit kom sê in die stad waar die ou profeet woon.
26 Toe die profeet wat hom van die pad af laat omdraai het, dit hoor, sê hy: Dit is die man van God wat teen die mond van die Here wederstrewig was; daarom het die Here hom aan die leeu oorgegee wat hom verskeur en hom gedood het volgens die woord van die Here wat Hy met hom gespreek het.
27 Daarop praat hy met sy seuns en sê: Saal vir my die esel op. En hulle het opgesaal.
28 Toe gaan hy weg en vind sy lyk neergewerp op die pad, terwyl die esel en die leeu langs die lyk staan; die leeu het die lyk nie geëet en die esel nie verskeur nie.