3 En hy het dieselfde dag ’n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die Here gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word.
4 En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword, sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.
5 En die altaar is uitmekaargeskeur, en die as is van die altaar afgegooi volgens die wonderteken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die Here.
6 Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van die Here jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die Here om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.
7 Daarop sê die koning aan die man van God: Kom met my saam huis toe en versterk jou, en laat ek jou ’n geskenk gee.
8 Maar die man van God sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie.
9 Want so het die Here my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.