1 EN in die agttiende jaar van koning Jeróbeam, die seun van Nebat, het Abía oor Juda koning geword.
2 Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga, die dogter van Abísalom.
3 En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het; en sy hart was nie volkome met die Here sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.
4 Maar ter wille van Dawid het die Here sy God vir hom ’n lamp in Jerusalem gegee deur sy seun ná hom te verwek en Jerusalem in stand te hou,
5 omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die Here, sonder om af te wyk van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uría, die Hetiet.
6 En daar was oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam, al die dae van sy lewe.