13 Ja, selfs sy moeder Máäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy ’n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kidron verbrand.
14 Die hoogtes is wel nie afgeskaf nie, maar Asa se hart was volkome met die Here al sy dae.
15 En hy het die heilige gawes van sy vader en sy heilige gawes in die huis van die Here gebring: silwer en goud en allerhande voorwerpe.
16 En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae.
17 En Baésa, die koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie.
18 Toe neem Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die Here en die skatte van die huis van die koning, en gee dit in die hand van sy dienaars; en koning Asa het hulle gestuur na Bénhadad, die seun van Tabrímmon, die seun van Hésjon, die koning van Aram wat in Damaskus gewoon het, om te sê:
19 Daar is ’n verbond tussen my en u, tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur ’n geskenk van silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek, weg van my af.