21 En net toe Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gebly.
22 Toe roep koning Asa die hele Juda op — niemand was vry nie — en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en daarmee het koning Asa Geba in Benjamin en Mispa gebou.
23 En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy aan sy voete gely.
24 En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek koning geword.
25 EN Nadab, die seun van Jeróbeam, het koning geword oor Israel in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer.
26 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
27 Maar Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Íssaskar, het ’n sameswering teen hom gesmee, en Baésa het hom verslaan by Gíbbeton wat aan die Filistyne behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gíbbeton te beleër.