7 Ook het die woord van die Here deur die diens van Jehu, die seun van Hanáni, die profeet, gekom teen Baésa en teen sy huis, nie alleen oor al die kwaad wat hy in die oë van die Here gedoen het, deur Hom te terg met sy handewerk om soos die huis van Jeróbeam te wees nie, maar ook omdat hy hom verslaan het.
8 IN die ses-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Ela, die seun van Baésa, oor Israel koning geword in Tirsa, twee jaar lank.
9 Maar sy dienaar Simri, die owerste oor die helfte van die strydwaens, het ’n sameswering teen hom gesmee: terwyl hy hom dronk gedrink het in Tirsa, in die huis van Arsa, wat oor die paleis in Tirsa was,
10 het Simri ingekom en hom verslaan en hom gedood in die sewen-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het in sy plek koning geword.
11 En toe hy koning was, terwyl hy op die troon sit, het hy die hele huis van Baésa verwoes; hy het vir hom niemand laat oorbly wat manlik is nie, ook nie sy bloedwrekers en vriende nie.
12 So het Simri dan die hele huis van Baésa verdelg volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het oor Baésa deur die diens van die profeet Jehu,
13 vanweë al die sondes van Baésa en die sondes van sy seun Ela wat hulle gedoen het en waarmee hulle Israel laat sondig het, om die Here, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode.