10 Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was ’n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my ’n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.
11 Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my ’n stukkie brood saam.
12 Maar sy antwoord: So waar as die Here u God leef, ek het nie ’n broodkoek nie, net maar ’n handvol meel in die pot en ’n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou ’n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe.
13 En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my ’n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak.
14 Want so sê die Here, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde sal gee.
15 En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank:
16 die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die Here wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.