11 En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.
12 En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte.
13 En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?
14 En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.
15 Maar die Here sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram.
16 En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek.
17 En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak.