2 Daarop stuur Isébel ’n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle.
3 Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly;
4 maar self het hy ’n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie.
5 Daarop gaan hy lê en raak onder ’n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ’n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!
6 Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ’n broodkoek, op warm klippe gebak, en ’n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.
7 En die engel van die Here het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.
8 Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.