8 Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.
9 En hy het daar in ’n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía?
10 En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.
11 En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.
12 En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte.
13 En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?
14 En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.