1 EN toe die dae van Dawid nader kom dat hy sou sterwe, het hy sy seun Salomo bevel gegee en gesê:
2 Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ’n man;
3 en onderhou die ordening van die Here jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe;
4 sodat die Here sy woord mag vervul wat Hy oor my gespreek het, naamlik: As jou seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou ’n man op die troon van Israel ontbreek nie.
5 En jy weet ook self wat Joab, die seun van Serúja, my aangedoen het; wat hy die twee leërowerstes van Israel, Abner, die seun van Ner, en Amása, die seun van Jeter, aangedoen het; hoe hy hulle vermoor en oorlogsbloed in vredestyd vergiet het, sodat hy die gord wat om sy heupe en die skoene wat aan sy voete was, met oorlogsbloed bevlek het.
6 Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die doderyk laat neerdaal nie.