15 En hy sê: Ú weet dat die koningskap myne was en die hele Israel sy aangesig op my gerig het, dat ek koning sou word; maar die koningskap het oorgegaan en my broer s’n geword, want deur die Here was dit vir hom bestem.
16 En nou doen ek een versoek aan u; wys my nie af nie. En sy antwoord hom: Spreek.
17 Toe sê hy: Spreek tog met koning Salomo, want hy sal u nie afwys nie, dat hy Abísag, die Sunamitiese, aan my as vrou moet gee.
18 En Bátseba sê: Goed, ék sal met die koning oor jou spreek.
19 Toe Bátseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adónia te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning ’n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem.
20 Toe sê sy: Een klein versoek doen ek aan u; wys my nie af nie. En die koning antwoord haar: Vra, my moeder, want ek sal u nie afwys nie.
21 En sy sê: Laat Abísag, die Sunamitiese, aan u broer Adónia as vrou gegee word.