20 Toe sê sy: Een klein versoek doen ek aan u; wys my nie af nie. En die koning antwoord haar: Vra, my moeder, want ek sal u nie afwys nie.
21 En sy sê: Laat Abísag, die Sunamitiese, aan u broer Adónia as vrou gegee word.
22 Daarop antwoord koning Salomo en sê aan sy moeder: Maar waarom vra u Abísag, die Sunamitiese, vir Adónia? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my broer wat ouer is as ek, ja, vir hom en vir Ábjatar, die priester, en vir Joab, die seun van Serúja!
23 En koning Salomo het gesweer by die Here en gesê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen — sekerlik, Adónia het hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek.
24 En nou, so waar as die Here leef wat my bevestig het en my op die troon van my vader Dawid laat sit en vir my ’n huis gestig het volgens sy belofte — Adónia sal sekerlik vandag gedood word!
25 Daarop het koning Salomo gestuur deur die diens van Benája, die seun van Jójada; en dié het op hom aangeval, sodat hy gesterf het.
26 En vir Ábjatar, die priester, sê die koning: Gaan na Ánatot op jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here Here voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy deelgenoot was van alles wat my vader gely het.