5 En jy weet ook self wat Joab, die seun van Serúja, my aangedoen het; wat hy die twee leërowerstes van Israel, Abner, die seun van Ner, en Amása, die seun van Jeter, aangedoen het; hoe hy hulle vermoor en oorlogsbloed in vredestyd vergiet het, sodat hy die gord wat om sy heupe en die skoene wat aan sy voete was, met oorlogsbloed bevlek het.
6 Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die doderyk laat neerdaal nie.
7 Maar aan die seuns van Barsíllai, die Gileadiet, moet jy guns bewys, en hulle moet wees onder die wat aan jou tafel eet; want só het hulle na my toe aangekom toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.
8 Verder is daar by jou Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, uit Bahúrim; hý naamlik het my gevloek met ’n hewige vloek die dag toe ek na Mahanáim gegaan het; en hý het afgekom om my te ontmoet by die Jordaan, sodat ek vir hom by die Here gesweer en gesê het: Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.
9 Maar nou moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is ’n wyse man; daarom sal jy weet wat jy hom moet aandoen, dat jy sy grys hare met bloed in die doderyk laat neerdaal.
10 Toe het Dawid ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid.
11 En die dae wat Dawid oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar geregeer.