33 En die manne het hulle dit dadelik toegeëien as ’n gunstige voorteken van sy kant en gesê: Bénhadad is u broer! Daarop sê hy: Gaan haal hom. En Bénhadad het uitgekom na hom, en hy het hom op die wa laat klim.
34 En Bénhadad sê vir hom: Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee, en u kan vir u winkelstrate aanlê in Damaskus soos my vader in Samaría aangelê het. En ek, sê Agab, sal u op hierdie verbond laat gaan. Hy het toe ’n verbond met hom gesluit en hom laat gaan.
35 Daarna het ’n sekere man uit die profete-seuns deur die woord van die Here aan sy maat gesê: Slaan my tog! Maar die man het geweier om hom te slaan.
36 Toe sê hy vir hom: Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, kyk, as jy van my af weggaan, sal ’n leeu jou doodmaak. En toe hy van hom af weggaan, het ’n leeu hom gekry en hom gedood.
37 Daarna het hy ’n ander man gekry en gesê: Slaan my tog! En die man het hom so geslaan, dat hy hom gewond het.
38 Toe vertrek die profeet en gaan die koning op die pad voorstaan; daarby maak hy homself onkenbaar met ’n verband oor sy oë.
39 En terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: U dienaar het uitgetrek in die geveg; en daar kom iemand eenkant toe en bring ’n man na my en sê: Bewaak hierdie man; as hy ooit gemis word, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of jy sal ’n talent silwer moet betaal.