1 EN ná hierdie dinge het dít gebeur: Nabot, ’n Jisreëliet, het in Jísreël ’n wingerd gehad, wat langs die paleis van Agab, die koning van Samaría, was.
2 En Agab het met Nabot gespreek en gesê: Gee my jou wingerd, dat dit my groentetuin kan word, want dit is naby, langsaan my huis; dan sal ek jou in die plek daarvan ’n wingerd gee wat beter is; of as dit goed is in jou oë, sal ek jou die koopprys daarvan in silwer gee.
3 Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die Here my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee!
4 Toe kom Agab in sy huis, verbitterd en toornig oor die woord wat Nabot, die Jisreëliet, met hom gespreek het, naamlik: Ek mag nie die erfdeel van my vaders aan u gee nie. En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie.