1 HULLE het toe drie jaar lank stil gesit, dat daar geen oorlog was tussen Aram en Israel nie.
2 Maar in die derde jaar het Jósafat, die koning van Juda, afgekom na die koning van Israel.
3 En die koning van Israel vra sy dienaars: Weet julle dat Ramot in Gílead aan ons behoort? En ons sit stil sonder om dit uit die hand van die koning van Aram te neem!
4 Daarna sê hy vir Jósafat: Sal u saam met my in die oorlog trek na Ramot in Gílead? En Jósafat antwoord die koning van Israel: Ek is soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde.
5 Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die Here.
6 Toe laat die koning van Israel die profete bymekaarkom, omtrent vierhonderd man, en hy sê aan hulle: Sal ek teen Ramot in Gílead trek om te veg of dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.
7 Maar Jósafat sê: Is hier nie nog ’n profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?