32 En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is sekerlik die koning van Israel! En hulle het weggeswaai om teen hom te veg; maar Jósafat het geskreeu.
33 En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.
34 Toe het ’n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan sy drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.
35 En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs; maar in die aand het hy gesterwe, en die bloed van die wond het in die wa se bak gevloei.
36 En teen sonsondergang gaan ’n geskreeu deur die leër: Elkeen na sy stad en elkeen na sy land toe!
37 En die koning het dood in Samaría aangekom, en die koning is in Samaría begrawe.
38 En toe hulle die wa uitspoel by die dam van Samaría, het die honde sy bloed gelek (terwyl die hoere hulle daarin was), volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het.