1 EN Salomo het hom verswaer met Farao, die koning van Egipte; hy het naamlik die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebring totdat hy met die bou van sy huis en die huis van die Here en die muur van Jerusalem rondom klaar sou wees.
2 Alleenlik het die volk gedurig op die hoogtes geoffer, omdat tot op daardie dae daar geen huis vir die Naam van die Here gebou was nie.
3 En Salomo het die Here liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; hy het net gedurig op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.
4 En die koning het na Gíbeon gegaan om daar te offer, omdat dit die vernaamste hoogte was; duisend brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer.
5 Toe verskyn die Here in Gíbeon in ’n nagtelike droom aan Salomo; en God het gesê: Begeer wat Ek jou moet gee.