1 EN Hiram, die koning van Tirus, het sy dienaars na Salomo gestuur, omdat hy gehoor het dat hulle hom in sy vader se plek as koning gesalf het, want Hiram was altyd ’n vriend van Dawid.
2 Daarop laat Salomo aan Hiram weet:
3 U weet self dat my vader Dawid geen huis vir die Naam van die Here sy God kon bou nie vanweë die oorlog waarmee hulle hom omring het, totdat die Here hulle onder sy voetsole gebring het.
4 Maar nou het die Here my God my rus gegee rondom; daar is geen teëstander en daar is geen onheil wat dreig nie.
5 En kyk, ek is van plan om vir die Naam van die Here my God ’n huis te bou soos die Here met my vader Dawid gespreek en gesê het: Jou seun wat Ek in jou plek op jou troon sal sit, hy sal die huis vir my Naam bou.
6 Gee dan nou bevel dat hulle vir my seders uit die Líbanon kap, en laat my dienaars saam met u dienaars wees, en die loon van u dienaars sal ek u gee net soos u sê; want u weet self dat onder ons niemand is wat verstaan om bome te kap soos die Sidoniërs nie.
7 Net toe Hiram die woorde van Salomo hoor, was hy baie bly en sê: Geseënd is die Here vandag wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk.