7 Net toe Hiram die woorde van Salomo hoor, was hy baie bly en sê: Geseënd is die Here vandag wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk.
8 Daarop laat Hiram aan Salomo weet: Ek het gehoor wat u my laat weet het; ék sal doen alles wat u verlang insake die sederhout en die sipreshout.
9 My dienaars sal dit van die Líbanon na die see afbring, en ék sal daar vlotte van maak op die see, tot by die plek wat u my sal laat weet, en ek sal dit daar uitmekaar laat neem; dan kan ú dit laat wegneem; en ú moet doen wat ek verlang deur voedsel aan my huis te lewer.
10 So het Hiram dan aan Salomo sederhout en sipreshout gelewer, soveel as hy wou hê,
11 terwyl Salomo aan Hiram gelewer het twintigduisend kor koring as voedsel vir sy huis en twintig kor uitgestampte olie; so het Salomo aan Hiram jaar vir jaar gelewer.
12 En die Here het aan Salomo wysheid gegee volgens sy belofte, en daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het ’n verbond gesluit.
13 Verder het koning Salomo uit die hele Israel die dwangarbeiders laat opkom, sodat die dwangarbeiders dertigduisend man was.