26 Laat dan nou, o God van Israel, u woord tog waargemaak word wat U gespreek het tot u kneg, my vader Dawid.
27 Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.
28 Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, Here my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid;
29 sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.
30 Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel toe, en as U dit hoor, vergewe dan.
31 As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ’n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,
32 wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.