46 As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,
47 en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van die wat hulle weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gehandel, ons was goddeloos —
48 en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel, in die land van hul vyande wat hulle weggevoer het, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, van die stad wat U verkies het, en die huis wat ek vir u Naam gebou het,
49 wil dan in die hemel, u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf,
50 en vergeef u volk wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het; en laat hulle barmhartigheid vind voor die wat hulle weggevoer het, dat dié hulle barmhartig kan wees.
51 Want hulle is u volk en u erfdeel wat U uit Egipte uitgelei het uit die yster-smeltoond.
52 Mag u oë dan oop wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u volk Israel, om na hulle te luister so dikwels as hulle U aanroep.