55 en hy het gaan staan en die hele vergadering van Israel hardop geseën en gesê:
56 Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.
57 Mag die Here onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie —
58 deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou.
59 En mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die aangesig van die Here gesmeek het, dag en nag naby die Here onse God wees, sodat Hy reg kan verskaf aan sy kneg en aan sy volk Israel na die eis van elke dag;
60 sodat al die volke van die aarde kan weet dat die Here God is, niemand meer nie.
61 Laat julle hart dan volkome met die Here onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.