8 En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute uit die Heilige, vlak voor die binneste vertrek, gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en hulle is daar tot vandag toe.
9 Daar was niks in die ark nie as net die twee kliptafels wat Moses by Horeb daarin neergelê het, toe die Here ’n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipteland.
10 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die Here vervul.
11 En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.
12 TOE het Salomo gesê: Die Here het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.
13 Verseker het ek vir U ’n woonhuis gebou, ’n vaste plek vir U om ewig in te woon.
14 Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.