19 Here, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.
20 Here, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
21 En wie is soos u volk Israel, ’n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het, om vir U ’n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe.
22 En U het u volk Israel vir U as ’n volk tot in ewigheid gemaak; en U, Here, U het vir hulle ’n God geword.
23 Laat dan nou, Here, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het.
24 Ja, laat dit waar gemaak word en laat u Naam groot word tot in ewigheid, deurdat hulle sê: Die Here van die leërskare, die God van Israel, is Israel se God, en die huis van u kneg Dawid is bestendig voor u aangesig.
25 Want U, my God, het die oor van u kneg geopen, dat U vir hom ’n huis sal stig; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om voor u aangesig te bid.