11 Toe kom Gad by Dawid en sê vir hom: So spreek die Here: Kies vir jou
12 òf drie jaar lank hongersnood, òf om drie maande lank om te kom vanweë jou teëstanders deurdat die swaard van jou vyande jou inhaal, òf drie dae lank die swaard van die Here, naamlik pes in die land deurdat die engel van die Here verderf aanrig in die hele grondgebied van Israel; oorweeg dan nou watter antwoord ek my Sender moet bring.
13 Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat my tog in die hand van die Here val, want sy barmhartighede is baie groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.
14 En die Here het ’n pes onder Israel beskik, en van Israel het daar sewentigduisend man geval.
15 En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes; en terwyl hy dit verwoes, het die Here dit gesien, en dit het Hom berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! En die engel van die Here het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan.
16 Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die Here staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.
17 En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Here, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ’n plaag teen u volk nie.