14 En die Here het ’n pes onder Israel beskik, en van Israel het daar sewentigduisend man geval.
15 En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes; en terwyl hy dit verwoes, het die Here dit gesien, en dit het Hom berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! En die engel van die Here het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan.
16 Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die Here staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.
17 En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Here, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ’n plaag teen u volk nie.
18 Daarop gee die engel van die Here bevel aan Gad om aan Dawid te sê dat Dawid moet opgaan om vir die Here ’n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.
19 En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad wat hy in die Naam van die Here gespreek het.
20 Toe Ornan hom omdraai, sien hy die engel; en sy vier seuns wat by hom was, het hulle weggesteek; Ornan het naamlik koring gedors.