3 En Dawid het yster in groot hoeveelheid byeengebring as spykers vir die poortdeure en as kramme, en koper in menigte, onweegbaar;
4 verder sederblokke, ontelbaar; want die Sidoniërs en die Tiriërs het vir Dawid sederblokke in menigte gebring.
5 Want Dawid het gesê: My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die Here gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot ’n roem en ’n sieraad van al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei. Daarom het Dawid voor sy dood groot toebereidsels gemaak.
6 Daarop het hy sy seun Salomo geroep en hom bevel gegee om ’n huis vir die Here, die God van Israel, te bou.
7 En Dawid het aan Salomo gesê: My seun, ek self het my voorgeneem om ’n huis te bou vir die Naam van die Here my God.
8 Maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Jy het bloed in menigte vergiet en groot oorloë gevoer: jy mag nie vir my Naam ’n huis bou nie, omdat jy baie bloed op die aarde voor my aangesig vergiet het.
9 Kyk, ’n seun sal vir jou gebore word; hý sal ’n man van rus wees, en Ek sal hom rus verskaf van al sy vyande rondom; want Salomo sal sy naam wees, en vrede en rus sal Ek oor Israel in sy dae gee.