1 EN dit is die seuns van Israel volgens hulle getal, die familiehoofde en die owerstes oor duisend en oor honderd en hulle opsigters, wat die koning gedien het in al die sake van die afdelings wat maand vir maand gedurende al die maande van die jaar ingekom en uitgegaan het; elke afdeling was vier-en-twintigduisend:
2 oor die eerste afdeling vir die eerste maand was Jasóbeam, die seun van Sábdiël; en by sy afdeling was vier-en-twintigduisend.
3 Uit die seuns van Peres was hy die hoof van al die leërowerstes vir die eerste maand.
4 En oor die afdeling vir die tweede maand was Dódai, die Ahohiet; en oor sy afdeling was die bevelhebber Miklot; by sy afdeling was ook vier-en-twintigduisend.
5 Die derde leërowerste vir die derde maand was Benája, die seun van Jójada, die hoëpriester, en by sy afdeling was vier-en-twintigduisend.
6 Hierdie Benája was ’n held van die dertig en oor die dertig, en oor sy afdeling was sy seun, Ammísabad.