4 Toe gaan Abía bo-op die berg Semaráim staan wat in die gebergte van Efraim is, en sê: Luister na my, Jeróbeam en die hele Israel!
5 Behoort julle nie te weet dat die Here, die God van Israel, die koningskap oor Israel aan Dawid vir ewig gegee het, aan hom en sy seuns as ’n soutverbond nie?
6 Maar Jeróbeam, die seun van Nebat, die dienaar van Salomo, die seun van Dawid, het opgestaan en teen sy heer gerebelleer.
7 En ligsinnige manne, deugniete, het by hom vergader en hulle versit teen Rehábeam, die seun van Salomo; en Rehábeam was jonk en week van hart, sodat hy hulle geen teëstand kon bied nie.
8 En nou dink julle om teëstand te bied aan die koningskap van die Here in die hand van die seuns van Dawid, omdat julle ’n groot menigte is en daar goue kalwers by julle is wat Jeróbeam vir julle as gode gemaak het.
9 Het julle nie die priesters van die Here, die seuns van Aäron, en die Leviete verdrywe en vir julle priesters gemaak soos die volke van die lande nie? Elkeen wat kom met ’n jong bul en sewe ramme om hom te laat aanstel, dié het priester geword van die wat geen gode is nie.
10 Maar ons — die Here is onse God, en ons het Hom nie verlaat nie; en as priesters dien die seuns van Aäron die Here, en die Leviete is in die dienswerk.